’n Nuwe begin vir sang-duo

n Nuwe begin vir sang-duo / ’n Tweede kans vir sukses

Die Ghoema-genomineerde meisiespopgroep, MWAH, het beslis geen bekendstelling in musiekkringe nodig nie. Verskeie radiotoekennings, optredes by van die grootste musiekfeeste in die land en meer as 800 000 trefslae op YouTube vir die musiekvideo van hulle grootste treffer, Sandra Prinsloo, het van hierdie groep (wat bestaan uit Loriska Bubb en Franzel de Wet) kunstenaars gemaak om mee rekening te hou. Nuwe Begin, hulle splinternuwe aanlynalbum, is beskikbaar en beloof om luisteraars se harte weer opnuut te verower.

Nuwe Begin bou voort op die polsende wenresep waarvoor die groep bekendheid verwerf het en kan beskryf word as ’n kombinasie van moderne pop- en kontemporêre musiek. Die positiewe titel van die album lê die groep na aan die hart en die liedjies wat gekies is, is hoofsaaklik geïnspireer deur hulle eie lewenslesse en struikelblokke, liefde en geloof. “Ons werk al vir meer as ’n jaar aan hierdie projek. MWAH het die afgelope ruk ’n metamorfose ondergaan, wat ons gedink het dalk die einde van die groep sou beteken. Nou weet ons dat dit ’n noodsaaklike fase was, wat gelei het tot ’n nuwe begin. Die titel van die album is dus baie gepas,” vertel hulle.

Die aanlynalbum, wat op iTunes beskikbaar sal wees, bestaan uit sewe liedjies wat sorgvuldig uitgekies is om by die groep se unieke styl te pas en aan die smaak van hulle aanhangers (die ‘Mwahsters’) te voldoen. “Hierdie album gaan beslis luisteraars honger maak vir nog van ons musiek. Elke liedjie wat gekies is, is spesiaal uitgesoek uit ’n verskeidenheid opsies. Net die beste is gekies en ons het regtig hard gewerk om elke liedjie spesiaal en sterk, in eie reg, te maak. Ons het van die liedjies op die album saam met Stephan van Huyssteen geskryf en die res is uitgesoekte werke uit Stephan, Hugo Ludik, Kyle Grant, en Vaughan en Narine Gardiner se penne,” verklap die groep. “Ek Vra Mooi deur Stephan van Huysteen is my gunstelinglied op die komende album. As groep, het ons nog nooit so ’n tipe liedjie opgeneem nie. Dis baie minimalisties en jy hoor net die begeleiding van ’n klavier,” sê Loriska, terwyl Franzel meen dat Beter as Sterk weer haar gunsteling is. “Ons het dié snit saam met Stephan geskryf en dit is die eerste een wat die hele groep se hart en eie woorde bevat. Dit gaan daaroor dat jy tot meer in staat is as wat jy, of die mense rondom jou, dink.”

Die eerste enkelsnit, Nuwe Begin, is onlangs vrygestel en is baie positief deur die publiek en radiostasies ontvang en Magneties, ’n voelgoed-liefdespopliedjie, is volgende op die lys. “Die liedjie is geskryf deur Hugo Ludik, Vaughan en Nerine Gardiner en is ’n lekker danstreffer met ’n wysie wat in jou kop vassteek. Die liedjie gaan oor daardie tipe liefde wat nie deur enigiets gekeer kan word nie, omdat dit bestem is om te wees ongeag van watter struikelblokke in die pad kom,” sê die meisies.

MWAH het nog groot planne en drome vir die toekoms en sal graag ’n huishoudelike naam in die Suid-Afrikaanse musiekbedryf wil word. “Ons hoop regtig dat ons elektroniese album ’n positiewe effek in luisteraars se lewens sal hê en dat hulle ons, deur ons musiek, beter sal leer ken. Ons sien uit daarna om hierdie nuwe fase met ons huidige en nuwe Mwahsters te deel en ’n pad saam met hulle te stap.”

Nuwe Begin versinnebeeld nie net die groei en omwenteling wat hierdie talentvolle duo die afgelope paar jaar ondergaan het nie, maar is ook ’n goeie aanduiding van wat luisteraars in die toekoms van hulle kan verwag. Die aanslag van die album is verfrissend anders en ’n bederf vir die oor – van die eerste tot die laaste snit. Die groep se nuwe musiek gaan beslis, net soos hulle kort en kragtige naam, ’n blywende indruk laat en diep in die harte van musiekliefhebbers nesskop.

Volg hulle op:
Twitter - @mwahgirls, en
Facebook –
https://www.facebook.com/mwahgirls
vir toerbesonderhede, besprekings en nuus.

VIR MEER INLIGTING, KONTAK VIR
Christien de Klerk: Christien.DeKlerk@umusic.com

Vir Besprekings kontak:
MUSESTAR MANAGEMENT

bookings@musestar.co.za
082 438 0182